Die NGK nou in stormwaters na vele waarskuwings

Die NGK waarvan hy n leraar is, is nou aan die einde van 2015 in emergent-doctrine Lifestyle C / Leefstyl Cstormwaters. Hy verwys na die omstrede SGV besluite van die Sinode. Dit het gebeur omdat die leiers van die kerk nes die leiers van die regering nie n reguit pad geloop het nie. n Groep lidmate het in 2012 daaroor gewaarsku maar die leiers het hulle nie daaraan gesteur nie. Daar is al vroeër ook uit verskeie oorde gewaarsku oor die doktrinale verval van die NGK.

VOORLEGGING AAN DIE SDK DEUR DS JAN LOUW

10 Oktober 2012

Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar. (Agur – Spr 30:6)

In ‘n vorige katkisasieboek van die NG Kerk, Glo en Bely, is geleer dat die Satan in die kerkgeskiedenis drie aanslae teen die kerk gemaak het: Dit was Vervolging, Dwaalleer en Voorspoed. Dit is my oortuiging dat die NG Kerk in hierdie tyd ‘n ongekende aanslag van dwaalleer beleef.

Die apostel Paulus het van verskeie kante in sy tyd teenstand beleef. Daar was sommige teenstanders met wie hy vrede gemaak het. Hy praat van predikers, wat op hom jaloers was en deur hulle optrede sy gevangenskap swaarder gemaak het. Paulus sê oor hulle dat hy bly is as Christus tog net bekend gemaak word. (Fil 1:15 ev) Daar was egter ook predikers wat Paulus baie besorg gemaak het. Hy praat in 1 Kor 3:11 van mense wat ‘n “ander fondament” lê. In 2 Kor 11:4 praat hy van mense wat ‘n “ander Jesus, verkondig het. Hy is besorg daaroor dat die gelowiges ‘n “ander gees” en ‘n “ander evangelie” sal aanneem. Hy is bang dat hulle“gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang” (2 Kor 11:3). Oor hierdie soort dwaalleringe draai Paulus geen doekies om nie. Luister hoe hy oor hierdie mense praat: Gal 1:9 Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!

Paulus gebruik die woord “ander” om die dwalings waarmee hy te doene gehad het te beskryf. Ek wil daarby aansluit om die aanslag van dwaalleringe waarmee ons nou in die NG Kerk te doen het te verduidelik. Soos in die geskiedenis van die kerk is dit nou weer leierfigure in die NG Kerk wat die aanslag lei.

1. ‘n Ander Jesus

Prof Julian Müller het voor ‘n groot gehoor van predikante, openlik die opstanding, die maagdelike geboorte en die goddelike natuur van Jesus bevraagteken. Met sulke uitsprake het hy aangesluit by die Nuwe Hervormers se beskouings wat werk met die sogenaamde Historiese Jesus, wat iemand heeltemal anders was as Jesus Christus. Prof Andries van Aarde wat ook vir ons studente klas gegee het, is bekend daarvoor dat hy deelgeneem het aan die bekende Jesus Seminar in die VSA, waar ‘n klein groepie Nuwe Testamentici wou uit maak watter dele van Jesus se verhale moontlik histories kon wees en watter nie. Van Aarde is ook bekend vir sy boek Fatherless in Galilee, waarin hy werk met die konsep dat Jesus ‘n buite-egtelike kind van ‘n Joodse meisie was, wat oor ‘n vaderfiguur gefantaseer het, waarna God sy vader geword het. Prof Jurie le Roux van Pretoria verklaar sy hoë agting vir die werk van prof. van Aarde tydens ‘n openbare lesing by Unisa op 14 Oktober 2003 en ook in ‘n gepubliseerde artikel in Hervormde Teologiese Studies(HTS, 59 (1) 2003). Hy verklaar selfs dat hy reeds op sy eie manier uitvoering gegee het aan Prof Pieter Craffert van die Nuwe Hervorming se uitdaging dat hy by Tukkies moet gaan verkondig dat ons nie meer Jesus se opstanding letterlik hoef te verstaan nie. Dit, sê hy, het hy gedoen deur sy baie positiewe artikel oor Andries van Aarde se Fatherless in Galilee.

Dit is ‘n duidelike verkondiging van ‘n “ander Jesus” as die Een wat in die Skrif aan ons bekend gemaak word. Sulke beskouings oor Jesus word geleer in die naam van die teologiese wetenskap en is daarom skynbaar vir die Teologiese Fakulteit en die Kuratorium aanvaarbaar.

2. ‘n Ander Gees

In die jare ’80 het ek ‘n groot predikante-konferensie in Pretoria bygewoon, waar Ferdinand Deist gepraat het oor Jes 53. Dit is waar ek die eerste keer pertinent blootgestel is aan die gedagte dat Jesaja nie van Jesus geprofeteer het nie. Ek het in die vergadering die vraag gevraag waarom Jesus dan vir die Emmausgangers die Skrif uitgelê en hulle daarop gewys het hoedat die Skrif op Hom betrekking het (Luk 24:27). Deist het ‘n antwoord gegee wat daarop neergekom het dat dit maar deel van die vroeë kerk se sieninge was.

Daarna het ek by verskeie geleenthede gehoor hoedat Ou Testamentici skynbaar nie kan aanvaar dat die Heilige Gees, deur die profete, aankondiginge van God se verlossingsdade in die verre toekoms gedoen het nie. Hulle reduseer die profete tot predikers van hulle eie tyd.

Wat het ons akademici daartoe gebring om die wonder van die werking van die Heilige Gees in die OT mis te kyk? Die profete sê dan self dat hulle onder leiding van die Gees profeteer oor die toekoms (Jes 46:10). Groot musici, soos Handel haal die profete aan om die heerlikheid van Christus te besing. Dink aan die bekende uit die Messias van Handel:

For unto us a Child is born, and the government shall be upon his shoulder; and His name shal be called Wonderfull, Counsellor, The Mighty God, The Everlasting Father, The Prince of Peace (Jes 9:5-6)

He was despised and rejected of men; a Man man of sorrows, and acquainted with grief (Jes 53:3).

Jesus het telkens terug verwys na die profete om vir die mense te sê wie Hy is (Luk 4:21; Luk 24:27; Joh 5:46). Die apostels het by die profete begin om vir ons te verduidelik wie Jesus werklik is (Hand 8:34,35). Die ganse Bybel word omvat deur die een Gees wat in die OT en die NT en in ons vandag woon en werk. Dit is die Gees van Christus wat die kerk deur al die eeue in die waarheid gelei het en nog lei. Wie dit nie kan raaksien nie, bly met baie min oor. Prediking uit die OT sonder om die gerigtheid op Christus raak te sien, verval gewoonlik in vrugtelose en vervelige besprekings van die antieke tye met ‘n morele les aan die einde. ‘n Ou Testamentikus is net soos Johannes die Doper veronderstel om “die vriend van die Bruidegom te wees” (Joh 3:29).

3. ‘n Ander God

Prof Julian Müller is onbeskaamd daarin dat hy nie meer vrede kan maak met die teïsme nie en homself as ‘n post-teïs beskou: “Ek sou myself aan die ander kant ‘n post-teïs wou noem. Dit beteken dat ek doelbewus aanvaar dat daar ‘n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het.” Hy skaar hom nou by die panenteïstiese godsbeskouing: “Vir baie Christene is die panenteïsme, waarvolgens alles in God is en God in alles, ‘n uitweg uit die vasgeloopte teïsme.”Wat sê Müller? Hy sê dat hy nie meer aan God as ‘n Persoon dink nie. Müller is verby Ps 23 wat sê: “Die Here is my Herder”.

Ben du Toit, by Elektroniese Kommunikasie en Skriba van Leer en Aktuele Sake van die Algemene Sinode, erken nie openlik sy verbintenis met panenteïsme nie, maar maak tog stellings soos die volgende: “Jou siel is deel van ‘n kosmiese siel, wat ons God kan noem…” (God? Geloof in ‘n postmoderme tyd, Bl 151).

Leraars in die kerk het nie die reg om elkeen sy eie opinie oor God te verkondig nie. Toe Moses van die berg afgekom het, het die volk in sy afwesigheid die goue kalf gemaak. Op die oog af was dit eintlik ‘n onskuldige optrede. Hulle het nie voorgegee dat hulle ‘n ander God begin dien het nie. Aäron het gesê: “Môre is daar fees vir die Here” (Jahwe). Die beeld wat Israel gemaak het was egter nie Jahwe nie. Dit was ‘n ander god. Die optrede was so ernstig dat die verhouding tussen Israel en God ingrypend geskend is.

4. ‘n Ander Wêreldbeeld

Ons kom hier by die evolusieleer. Die kerk het voor ‘n onvermydelike situasie gekom dat ons ‘n standpunt sal moet inneem oor waar ons staan ten opsigte van die evolusieleer. Die evolusieleer kom in die gedaante van wetenskaplikheid en die kerk is in die posisie dat ons nie graag die “wetenskap” wil opponeer nie. Die werklikheid is egter dat die evolusieleer ‘n verwoestende effek op die geloof van die kerk het en die rede hiervoor is die oorweldigende aanspraak van die wetenskap dat die werklikheid volledig wetenskaplik, sonder bo-natuurlike ingrype, verklaarbaar is. Die evolusiehipotese werk met ‘n oneindige verlede, waar die mens êrens in die evolusieketting te voorskyn getree het en nie spesiaal na die beeld van God geskape is nie.

Die Bybel gee ‘n radikale ander voorstelling. Die wêreldbeeld van die Bybel en die Christen kan opgesom word in die woorde Skepping, Sondeval en Verlossing.

Skepping: Ons sê Sondae: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. In daardie een sinnetjie, bely ons dat God ‘n Persoon is, Dat Hy die heelal ex nihilo geskep het, dat die skeppingwerk ‘n afgehandelde handeling van God in die verlede is. Alhoewel God die skepping in stand hou, is daar nie sprake van ‘n ewigdurende skepping op evolusionistiese wyse nie. Dit is die boodskap van Gen. 2:2: En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.

Sondeval: Ná die skepping het die sondeval plaasgevind. Dit was ‘n historiese gebeurtenis met verskriklike gevolge. Dood, siekte, sonde en swaarkry het deel geword van die skepping wat eers volmaak was. Die sondeval moet verbind word aan die duiwel, wat die mense oorreed het om aan God ongehoorsaam te word.

Verlossing: Die volgende belangrike historiese gebeurtenis is die Verlossing deur Jesus. Hy het gekom as die nuwe Adam om te herstel wat die eerste Adam verbrou het. Dit is inherent die evangelie en dit is fundamenteel onversoenbaar met die evolusieleer.

Dit blyk nou dat ons Teologiese Fakulteite gekies het vir die “wetenskaplike” uitgangspunt en dat die Bybel en ons geloof eenvoudig daarby aangepas moet word. Dit is die indruk wat mens kry as die Teologiese Fakulteit Pretoria, in 2010, vir prof George Claasen, ‘n bekende ateïs en evolusionis, nooi om as hoofspreker op te tree by die openingsdag.

‘n Goeie voorbeeld van ‘n internasionaal bekende akademikus en leraar van die NG Kerk wat uiteindelik heeltemaal in die evolusionistiese denkpatroon opgegaan het is prof Wentzel van Huyssteen. Daar het waarskynlik ‘n groot invloed van hom af uitgegaan op die denke van baie leraars toe hy vir twee dekades lank professor was in Godsdienswetenskap in Port Elizabeth. In ‘n boek, Living Theology, ter ere van prof. Dirkie Smit, het prof. van Huyssteen ‘n bydra oor etiek gelewer. Hy sê daarin onder andere die volgende: “Etiese gedrag is ‘n produk van biologiese evolusie. Ons stryd om oorlewing moes ‘n rol gespeel het in die formulering van etiese kodes. Die Tien Gebooie en die Liefdesgebod van Jesus is histories geopenbaar as morele wette wat uit ervaring gegroei het. Absolute morele waarhede is ‘n fundamentalistiese gedagte.”

Dit is een van die noodwendige uitkomste van ‘n godsdiens wat gekies het vir die filosofie van die teenswoordige wêreld. Die openbaring van God in die Bybel word in hierdie denkpatroon totaal relatief en enige aanspraak op absolute morele waarhede word afgemaak as fundamentalisme.

Ek plaas die woord “wetenskap” hier in aanhalingstekens, omdat die evolusieleer nie wetenskap is nie, maar ‘n wetenskapsfilosofie, wat uitgaan van die veronderstelling dat daar geen goddelike openbaring oor die oorsprong van die heelal bestaan nie. Wat my betref dra die evolusiehipotese geen wetenskaplike gesag nie en daar is baie gesaghebbende natuurwetenskaplikes wat dit al herhaaldelike kere gesê het.

My voorstel vir Christene, wat nog nie vir hulleself duidelikheid kon kry oor die dwaasheid van die evolusieleer nie, is om ten minste aan die Skrif getrou te bly. Ons het in so ‘n situasie die verantwoordelikheid om openhartig vir mekaar te sê: “Ek weet nie hoe dit werk nie”, maar laat ons ook onbeskaamd vir mekaar sê wat die Bybelskrywers vir ons nagelaat het. Hulle het onteenseglik vir ons oorgelewer dat die mens ‘n spesiale skepping van God is, dat Hy hulle manlik en vroulik na sy Beeld gemaak het en dat hulle name gehad het, nl Adam en Eva. Adam en Eva se geslagsregister is vir ons opgeteken. Dit is op so ‘n manier opgeteken dat ons moet aflei dat die mensdom en die skepping 6000 jaar oud is. Dit is wat daar staan.

Hierdie skrywers het hulle navorsing op oortuigende wyse deur die beskikking van God vir ons nagelaat. Ons moet die Bybelskrywers nie afmaak as “pre-modern” nie (Ben du Toit), wat dit ookal mag beteken. Volgens Ben du Toit, was Jesus self ook blykbaar pre-modern, omdat Hy glo ‘n gebrekkige en foutiewe verstaan van sekere dinge gehad het (God? Geloof in ‘n Postmoderne tyd, bl 15, 16 en 124). Ons moet ook nie die Bybelskrywers se bydraes tot metafore verklaar, as hulle dit nie so bedoel het nie. Hulle het duidelik genoeg vir ons aangedui wanneer hulle ‘n beeld, gebruik het en wanneer hulle geskiedenis geskryf het.

5. ‘n Ander Hermeneutiek

Hermeneutiek gaan oor die interpretasie van die Bybel en veral spesifieke gedeeltes van die Bybel. Ons is hier baie afhanklik van die belofte van Jesus dat die Gees ons in die waarheid sal lei, want dit gaan oor ons verstaan van onderwerpe soos hoofbedekkings van vroue, slawerny en veral nou oor homoseksuele gedrag.

‘n Dekade of wat gelede het die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake by die Suid-Transvaalse Sinode ‘n verslag uitgebring oor Homoseksualiteit. Die Voorsitter en propageerder van die verslag was dr Andre Bartlett. Soos wat ek kan onthou het die verslag vyf standaard plekke in die Bybel hanteer, waar daar oor homoseksuele gedrag gepraat word. In al vyf gevalle is “kundiges” aangehaal wat nuwe interpretasies aan die bedoeling van die teks gegee het. Uiteindelik het die Kommissie (sg. op grond van die Bybel) aanbeveel dat homoseksualiteit as ‘n alternatiewe seksualiteit en nie as ‘n afwykende seksualiteit beskou moet word nie. Die verslag is nie goedgekeur nie, maar is aanvaar as ‘n gespreksdokument.

My ervaring en frustrasie hier is dat daar teoloë is, wat nuwe idees oor sake soos homoseksualiteit en saamwonery het. Daar is nie vrede in die kerk oor die manier waarop hulle die Bybel interpreteer om hulle sienings te regverdig is nie, maar die saak is vir hulle om een of ander rede so belangrik dat hulle aanhoudend druk uitoefen om kerklike sanksie vir hulle standpunte te kry. Hulle is nie bereid om volgens die riglyne van die apostel Paulus in bv Rom 14 op te tree oor sake waarin ons met mekaar verskil nie. Dit bring verdeeldheid. Prof Jan van der Watt het alreeds in 2005 gewaarsku dat die NG Kerk teologies geskeur het, in die konteks van pogings om homoseksuale gedrag eksegeties te regverdig (Bybelse seksualiteit seminaar by Moreletapark NG Kerk).

‘n Baie ontnugterende ervaring vir my was dat dr Ben du Toit en Kobus Gerber in die naam van die NG Kerk by ‘n Parlementêre komitee aangevra het dat wetgewing geformuleer moet word om huwelike tussen mense met ‘n homoseksuele orientasie moontlik te maak. Ek het gesaghebbend verneem dat die voorsitter van die Komitee verbaas was, oor die versoek van die NG Kerk se kant af en dat hy vir NG Kerk se afvaardiging gevra het, of hulle namens die NG Kerk praat. Hulle het eiegeregtig opgetree en daarmee net die ingeligte en denkende lidmate se misnoeë met die leierskap in die kerk vergroot.

6. ‘n Ander Koninkryk

Die belangrikste boodskap van Johannes die Doper en van Jesus Christus was dat die Koninkryk van God aangebreek het. Die koninkryk van God het bepaalde voorwaardes soos: Jy moet jou bekeer, jy moet weergebore word, jy moet glo en jy moet Jesus volg. Die koninkryk het ‘n Koning en die koninkryk sal aan die einde van die tyd, by die wederkoms van Jesus ‘n radikale transformasie ondergaan. Ons moet wag vir die koms van die Koning en nie verslap nie. Ons moet getrou bly.

Daar is skrywers soos Brian McLaren wat nuwe sienings propageer. Hulle sê dat die kerk, al die jare ‘n verkeerde siening van Jesus en sy Koninkryk gehad het. Daar is by hierdie skrywers nie plek vir ‘n verheerlikte Jesus wat sal kom om te oordeel nie. Hulle wil net klem laat val op Jesus (en God) se liefde. Bekering en ‘n heilige lewe speel nie ‘n rol nie. Sosiale geregtigheid en ekologiese korrektheid is hier die belangrikste boodskap van die kerk. Daar is geen Bybelse eskatologie by hierdie nuwe koninkryksleer nie.

Ek ag dit nodig om hierdie punt te berde te bring, omdat ek opmerk dat al meer van ons eie teoloë napraters van hierdie denkpatroon word. Laat ons weer helder en duidelik vir mekaar sê dat Jesus Christus in heerlikheid sal verskyn by sy wederkoms om die wêreld te oordeel en dat God vir ons op daardie dag ‘n totaal nuwe “hemel en aarde” sal laat aanbreek.

7. ‘n Ander Kerk

Ons kom hier by die propagering van die sogenaamde Ontluikende Kerk. Wat vir my hier problematies is, is dat ons eie NG Kerk teoloë so gemaklik omgaan met omstrede figure, wat hulleself as mentors vir die Kerk aanbied. Hier moet ek die naam noem van Stephan Joubert. Hy maak melding in ‘n preek in 2012 in Benoni, van al die beskuldigings wat hy moet verduur en hoe hy vertroos is deur ‘n vriend met die naam Erwin McManus. Toe ek op Wikipedia gaan kyk wie Erwin McManus is lees ek:

In recent years he has also founded Awaken, a collection of poets, artists, film makers and humanitarians whose stated goal is “maximizing the divine potential” in every human being.

In 2009 verdedig Stephan Joubert die emerging church beweging by Kempton-Kruin. Hy het daar gesê:

Ons moet nuwe maniere vind, nuwe gestaltes vind. Ons moet nuwe gespreksvenote vind. Ons moet luister as die grootste groeiende spiritualiteite in die wêreld tans nie die Christendom is nie. Dan moet ons gaan vra hoekom nie. Hoekom groei die Boeddhiste die vinnigste? Wat het hulle wat ons nie het nie? Hoekom kry die Amerikaanse Neurologiese Vereniging, as 40 000 van die wêreld se neuroloë saamtrek, die Dalai Lama om hulle te kom toespreek? Hoekom kry hulle die Dalai Lama, die hoof van die Boeddhiste?

Hy praat ook van Johan Geyser van Mosaïek en gaan dan voort:

Hulle hardloop die Evangelie in die wêreld in. En hy sê jy moet die kultuur engage. Jy moet gaan luister na die Boeddhiste. So, gaan hoor wat sê daai ouens. Dan skrik Christene hulle dood, want hulle hoor nie wat Rob Bell mooi sê nie. Hy sê nie, word soos hulle nie, maar hy sê, gaan lees hulle goeters, dat jy kan hoor hoekom hulle so belangrik is. Hulle het ook dalk waarheid. Waarheid is nie net in die Christendom nie. Jy kan waarheid vind in die Judaisme. Jy kan waarheid vind by ateïsme. Jy kan waarheid vind by wie ook al. God se algemene openbaring is ‘n bietjie wyer, maar jy sê Jesus is die Here.

Dit is sulke vriendskappe en sulke uitlatings waarmee Stephan sy integriteit as teoloog van die NG Kerk in gedrang bring. Hoe beoordeel Jesus, die Here van die kerk, sulke uitlatings van leraars? Ons is sy geliefdes, sy uitverkorenes. Hy het die gawes van sy Gees in die kerk uitgestort. Wil Hy regtig hê dat ons by die heidene, die afgodsdienaars en die valse profete moet gaan leer hoe om kerk te wees, hoe om Hom te aanbid?

Stephan en Nelus Niemandt skryf wedersyds die voorwoord vir mekaar in hulle boeke. Hulle is albei prominente teoloë van ons kerk. Nelus het sy oortuigings oor die kerk bekendgestel met sy boek Nuwe drome vir Nuwe Werklikhede. Wat wil Nelus werklik vir ons met hierdie boek sê? Die subtitel is dat ons in pas moet kom met die postmoderne wêreld. Hy verduidelik dat ons die moderne tyd verbygegaan het en nou die postmoderne tyd ingegaan het. Vir hom beteken dit dat die tyd van “absolute waarhede” verbygegaan het. “Waarheid is (nou) kollektief en kontekstueel”. “Die natuur kan nie bloot as objekte beskou word nie” (panteïsties?). Daar is “erkenning van onsekerheid” (Julian Müller?). “Teologie is die produk van dialoog”. “Soek na eenheid ongeag leerverskille”. “Die sendeling ….neem die kultuur aan om die evangelie op egte wyse te bring”.

As bg. bloot net ‘n beskrywing van die tydsgees is, is dit interessante inligting om mee te werk, maar hoekom kry mens die indruk dat dit die nuwe karakter van die kerk is wat Nelus by ons aanbeveel? Moet ons regtig soos die wêreld word, om in pas met die tyd te kom? Dit wil lyk of Nelus presies dit wil propageer, uit die wyse waarop hy spesifieke sake beoordeel.

Nelus tree (bl 42) in die bresse vir Ben du Toit met sy boek God? Geloof in ‘n postmoderne tyd. Ben propageer in sy boek al die dinge waarteen ek in hierdie aanbieding beswaar maak, bv ‘n “ander” Jesus, ‘n “ander” Gees en ‘n “ander” God. In die boek die Trojaanse Perd, staan daar: “Du Toit se hele beskrywing van sy eie geloof is deurspek met twyfel en onsekerheid, maar die enigste sake wat hy bereid is om feite te noem, is die sogenaamde wetenskaplike bevindings betreffende miljarde jare van evolusionêre ontwikkeling” (TP, bl 12). Nelus maak melding van die buitengewone reaksie wat daar in die pers teen Ben se boek was, maar Nelus maak dit af as ‘n misverstand oor Postmodernisme. Dinge verander so vinnig die afgelope tyd dat dit begryplik is dat mense vasklou aan die vertroude denkskema van die Modernisme – aldus Nelus.

Dieselfde blyk uit Nelus se beoordeling van die Nuwe Hervormers. Die Nuwe Hervormers het onbeskaamd die rug op die God van die Bybel, op Jesus en die Evangelie gedraai, maar Nelus se enigste beswaar teen die Nuwe Hervormers is dat dit vir hom niks anders as die hoogbloei van die Modernisme is nie. Hulle het ‘n oordrewe klem op rasionele denke en verklarings. Hulle voel ongemaklik met onsekerheid en het weinig ruimte vir misterie en geloof.

Teen hierdie agtergrond, sal my betoog waarskynlik ook deur Nelus afgemaak word as net nog ‘n uitvloeisel van die Modernisme.

8. ‘n Ander Broederskap

Ek wil die tragiese gebeure by die Teologiese Fakulteit Pretoria in 2005 onder hierdie hofie te berde bring. Ek doen dit omdat dit vir my wil lyk of ons kerkleiers hulle bes doen om daardie gebeure onder die mat in te vee. Die werklikheid is dat die gebeure by Tukkies in 2005 waarskynlik in die geskiedenis van die NG Kerk aangeteken sal word as een van skandelikste gebeurtenisse in die geskiedenis van ons Kerk.

‘n Groep studente onder leiding van Ferdie Mulder het, na jarelange gesprekke, onbeantwoorde briewe en kommer, beswaar aangeteken teen die uitsprake van sommige dosente, veral oor die opstanding van Jesus. Ferdie het uiteindelik saam met senior studente soos Johannes Mahne en Riaan Rossouw met ‘n petisie begin onder die studente. Hulle aksie het op hulle geboemerang. Die dosenteraad onder leiding van prof Cas Vos het met mening op hulle toegeslaan. Die skriba van die kuratorium, Flip du Toit, het die studente met moontlike regsaksies per SMS gewaarsku. Selfs swart studente van die Presbiteriaanse kerk is gewaarsku deur Prof Graham Duncan nadat hy met dr Flip du Toit gesels het. Dit is opgevolg met nog SMSe en ‘n amptelike brief met die sanksie van die kuratorium. Die studente het onder al die dreigemente van hulle owerhede, die een na die ander onttrek en uiteindelik het net Ferdie oorgebly. Een student het later die volgende oor die gebeure geskryf:

Ek het in 2005 by Tukkies begin teologie swot, en was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is).

Ferdie het toe voortgegaan deur die dosente volgens die Kerkorde by die onderskeie Ringe waar hulle ingeskakel was, aan te kla. Daar was klagtes teen Proff. Julian Müller, Dirk Human en Jurie le Roux. Die Ringe het al die klagtes van die hand gewys.

Die Universiteit het toe onder aansporing van die dosente ‘n tugondersoek teen Ferdie begin, wat gelei is deur regter Buddy Swart en advokate het die betrokke partye bygestaan. Advokaat Du Toit het namens Müller getuig: “Daar is geen reël in die NG Kerk wat verg dat iemand moet glo dat Jesus Christus histories-letterlik en liggaamlik uit die dood opgestaan het nie” (Opgestaan Bl 189). Dit was verklaar ondanks ‘n groot hoeveelheid getuienis oor die liggaamlike opstanding van Jesus wat Ferdie ingedien het.

Regter Swart het uiteindelik beslis dat Ferdie die voorreg ontsê word om weer as student by die Teologiese Fakulteit (nie by die Universiteit nie!) te registreer. As motivering vir die besluit het die regter woorde gebruik soos: “In die lig van die geskiedenis, vir die moontlike bring van vrede en berusting in die Fakulteit.” (Opgestaan, Bl 270 ).

Wat moet mens hiervan dink? Wanneer daar vandag navraag gedoen word oor die gebeure, is die antwoord, dat die kerk die saak amptelik ondersoek het en Ferdie is as die skuldige aangewys. Daar is sprake van klagtes wat weens tegniese redes nie geslaag het nie, maar die uitkoms en hantering van die saak wat Ferdie en sy vriende met soveel dapperheid in belang van die waarheid en teologiese integriteit aangeroer het, laat mens steeds met ‘n gevoel van diepe onvergenoegdheid.

Ten spyte van baie duidelike getuienis wat die klaers aangebied het oor die uitsprake van die dosente is hulle nogtans onskuldig bevind. Dit lyk of die belangrikste bevinding van die kommissie(s) was dat die aangeklaagdes nie van bestaande besluite van die Algemene Sinodes afgewyk het nie: “Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie” (kykRing van Pretoria-Oos Bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen Prof. Jurie Le Roux). Hieruit moet mens aflei dat die skrywers van die boek, Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, nie onnodig beswaar aangeteken het, teen besluite van die Algemene Sinodes nie (TP, bl 29). Mense met afwykende beskouings beroep hulle nou op daardie besluite om hulleself te regverdig en met hulle leringe voort te gaan.

Een van die lede van die kommissie wat die klagtes beoordeel het was dr Danie Veldsman. Dit is bekend dat Veldsman self ‘n standpunt oor die opstanding verdedig, wat neerkom daarop dat hy die opstanding ontken. Hy het in 1993 al geskryf:

“Eksperimenteel sou ek as verklaring van die leë graf, wou beweer dat: (1) Die lyk van Jesus verwyder is na aanleiding van ‘n sekere begrafnisgebruik van daardie tyd … die versamel van die beendere was ‘n daad van die grootste piëteit en het as gebruik die eskatologiese hoop van die gemeenskap versterk. Sou hierdie nie moontlik as agtergrond kon dien vir die verwydering van die lyk nie?” (HTS 49/4, 1993: 995-996).

Ten spyte van hierdie afwykende beskouing het hy deelgeneem aan die ondersoek en die beoordeling van die klagtes teen Müller en le Roux. Die Kerkorde bepaal: “Niemand met ’n botsende belang ten opsigte van die saak wat ondersoek word, mag deel wees van ’n liggaam wat ’n tugondersoek doen en besluite daaroor neem nie” (Kerkorde, 2004, p28).

Veldsman is kort na die leerdwaling ondersoeke van Müller en Le Roux aangestel as dosent by die Teologiese Fakulteit, waar hy toe saam met Müller verantwoordelik was vir die opleiding van predikante. Nie een van hulle het ooit, sover ek bewus is, in die openbaar te kenne gegee dat hulle van standpunt verander het en verklaar het dat Jesus liggaamlik opgestaan het, en dat die graf leeg is soos ons in die kerk bely nie. Die enigste wat die professore bereid is om te sê, is dat hulle Sondae saam met die gemeente die “opstanding” bely.

Hierdie manier van redeneer het terloops ‘n kragtige stuk gereedskap van die duiwel geword om dwaalleer in die kerk in te dra. Dit is nl die idee dat teoloë die reg het om in twee wêrelde te kan lewe. Ons praat van die wêreld van die kateder en die preekstoel, die akademie en die kerk, die wetenskap en geloof. Hulle gee voor dat dit twee denksisteme, twee tale is, wat dualisties langs mekaar kan bestaan.

In die sielkunde word mense wat so lewe gediagnoseer met ‘n persoonlikheidsgebrek, wat skizofrenie genoem word. Sulke mense leef in twee wêrelde wat nie in kontak met mekaar is nie. Hulle het nie ‘n geïntegreerde persoonlikheid nie en in die hof word hulle nie geag as betroubare getuies nie. Ons moet vir onsself duidelikheid kry, dat die voorstelling dat ons in twee wêrelde kan leef, reeds ‘n dwaling is en dit mag nie as ‘n basis vir beoordeling van teologiese gesprek gebruik word nie.

Prof Julian Müller het intussen verder gegaan en openlik in die koerante en op die Teologiese Fakulteit se webblad www.teo.co.za sy toenadering tot die panenteïsme en post-teïsme bekend gemaak. Hy het ook ‘n boek met die titel: Om te mag Twyfel die lig laat sien, waarin hy sy vroeëre sieninge herbevestig het. Niemand het agterna weer die moeite gedoen om hom kerklik aan te kla nie. Die Kuratorium vind dit blykbaar in orde dat ons studente aan sulke God-onterende oortuigings blootgestel word.

9. ‘n Ander Duiwel

Die nuuste van die reeks skynbaar eindelose frustrasies waaraan die lidmate van die NG Kerk blootgestel word, is die besluit van die Algemene Sinode in Oktober 2011 oor die duiwel.

Die Sinode het besluit daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Wat het die Sinode presies bedoel? Mens moet jou laat lei deur die uitlatings van lede van die Sinode tydens die debat en ook deur leiers van die kerk, voor en na die Algemene Sinode. Ben du Toit, die skriba van die Algemene Taakgroep Leer en Aktuele Sake (ATLAS) het in die Sinode reguit gesê dat hy nie in die bestaan van die duiwel glo nie. James Kirkpatrick, die voorsitter van ATLAS, het Ben du Toit in sy siening gesteun (Beeld 13 Oktober 2011). Die Sinode van Wes- en Suid Kaap het die identiese besluit vroeër in 2011 geneem. Toe daar klagtes daaroor inkom het die voorsitter, Braam Hanekom, in die Kerkbode gesê: “Mense wat net op ‘n deel van die besluit fokus herinner aan die manier waarop fundamentaliste ‘n teksteologie gebruik” (KB 3 Junie 2011). Nelus Niemandt, die voorsitter van die AS, het gesê hy “is maar baie huiwerig om aan die duiwel ‘n identiteit te gee wat op ‘n soort goddelike mag neerkom” (KB, 4 Nov 2011). Die algemene sekretaris,Kobus Gerber het gesê: “Die besluit .. laat ruimte vir lidmate wat dit verkies om nie aan die duiwel as ‘n werklike wese te glo nie” (KB, 4 Nov 2011). Die voorsitter van die Sinode Oos-Kaap, Danie Mouton, het ook die AS se besluit op die kerklike sosiale media verdedig in Maart 2012 en die nie- persoonlike opvatting van die bose verduidelik as “’n parasiet wat in die menslike bestaan self setel, of in sisteme nesskop en dus bose samelewingstrukture skep”.

Die feit is dat die besluit van die AS ultra vires is, omdat dit in stryd is met die Bybel en die Belydenisskrifte. Dit is dus ‘n DWAALLEER. Moet ons nou aanvaar dat die NG Kerk se hele leierskap beheb is met ‘n dwaalleer en hulle invloed gebruik om dit in die kerk in te dra?

SLOTOPMERKINGS

1) Die integriteit van die NG Kerk is op die spel

Ons as lidmate en leraars van die NG Kerk staan met mekaar in ‘n vrywillige ooreenkoms dat ons ‘n sekere belydenis onderskryf. Elkeen van ons het op ‘n stadium van ons lewens voor die gemeente gesê:

“Ek glo dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die belydenisskrifte van ons kerk vervat is … die ware en volkome leer van die verlossing is”. Verder is daar van jou gevra of jy “in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe (sal) volhard en alle leringe wat daarvan afwyk (sal) verwerp”. Nog verder: “Aanvaar jy dat jou medegelowiges die verantwoordelikheid het om jou te help om op die regte pad te bly?” Dit word van jou gevra by belydenis van geloof. Derglike vrae is deel van die vrae by die doop en by die bevestiging van kerkraadslede.

Wanneer studente in die teologie gelegitimeer word, moet hy/sy ‘n legitimasie-eed aflê. Dit is veronderstel om ‘n baie gewigtige saak te wees. Die onderstaande kom uit die Kerkorde van 2011, soos beskikbaar gestel op die NG Kerk se webblad:

Die kandidaat antwoord op en onderteken die volgende Plegtige Legitimasieverklaring:

“Ek, die ondergetekende, …………………, oortuig van my roeping deur die Here en toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee voor die Here

1. dat ek glo dat die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreels, ooreenkom met die Woord van God;

2. dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;

3. dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoe sal doen om dit uit die Kerk te weer;

4. dat, indien ek later enige beswaar of ander insig oor die leer ontwikkel, ek dit nie sal leer of bevorder voordat ek dit aan ’n bevoegde kerkvergadering vir ’n beslissing voorgelê het nie;

5. dat ek my aan die orde van die NG Kerk sal hou;

6. dat ek, om beroep te word, volgens die Kerkorde en besluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk sal optree;

7. dat ek my op die uitbreiding van die Koninkryk van God sal toelê deur die bevordering van die kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God;

8. dat ek myself verbind tot voortgesette bedieningsontwikkeling.

Ek verbind my deur my handtekening tot al die voormelde.”

In dieselfde Kerkorde van 2011 is ook die volgende sinsnedes:

“Die sorgvuldige en konsekwente toepassing van die familiereëls dien die eenheid, heiligheid, omvattendheid en suiwerheid van die kerk. Die toepassing van die kerklike bepalinge moet die kerk beskerm teen verdeeldheid, wêreldsheid, uitsluiting en dwaling. Die toepassing van die reg in ’n geloofsgemeenskap moet gelowiges gesond, heel en gelukkig maak.”

“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreels”.

“Artikel 61

Tugwaardige sondes

61.1 Sondes wat tot tug lei, is sondes wat indruis teen die Woord van God en die belydenis van die Kerk”.

Teen die agtergrond van die feite wat hierbo voorgehou word, moet ons vir onsself erken dat ons in die NG Kerk besig is om ons eie integriteit te ondermyn. Ons is soos ‘n maatskappy in die samelewing wat sy eie grondwet oortree. So ‘n maatskappy kan gedagvaar word, om daaroor in die hof te verskyn.

Wat die situasie so ernstig maak is dat die vinger gewys moet word na die kerkleiding en die kuratoria. Hulle sien nie alleen toe dat die teologiese fakulteite ‘n broeiplek van dwaalleer word nie, hulle propageer self die afwykende leringe deur sinodebesluite en deur geskrifte wat hulle die lig laat sien. Hulle verwag van studente om ‘n legitimasieverklaring te doen oor sake waarin hulleself nie glo nie.

2) Wat is die gevolge?

Die aanhoudende kontroversiële uitsprake van sinodes, leiers en dosente gaan nie ongesiens by denkende lidmate verby nie.

  • Dit veroorsaak ‘n geleidelike erodering van lidmate se vertroue in die NG Kerk.
  • Die gemeenskap heg nie meer waarde aan sinodebesluite nie, hoe tegemoetkomend dit ookal vir die postmoderne opinie mag wees (Beeld 13 Oktober 2011).
  • Die onsekerheid in die teologie van die NG Kerk oor wat waar en reg is, vind neerslag in die prediking en die kudde van die Here word verwar.
  • ‘n Nuwe geslag predikante wat vol onsekerhede in die bediening ingaan kan nie volhou nie. Abel Pienaar en Izak du Plessis, was albei in Pretoria se Oostelike voorstede predikante, maar hulle het heeltemaal die spoor byster geraak en bedank as leraars. Is dit nie maar net die begin nie?
  • Kerkrade met ouderlinge wat die leer op die hart dra, het nie vertroue in die legitimasie van studente wat veral van Pretoria af kom nie. Dit is ‘n onreg wat jongmense aangedoen word, na jare se voorbereiding. (Ek kan dit staaf met voorbeelde).
  • Daar word ‘n onreg gedoen aan toegewyde ouers, wat goedertrou hulle kinders aan die kerk toevertrou om voorberei te word vir voltydse diens in die kerk. Daar is heelwat stories van jongmense wat hulle geloof verloor het na hulle teologie begin studeer het
  • Daar word ‘n onreg gedoen aan dosente by Tukkies wat die leer respekteer en nie saamstem met uitlatings van hulle kollegas nie. Almal is nou onder verdenking.

3) Die eer van die Here is op die spel

Die Here het die Waarheid, sy Waarheid aan die kerk toevertrou. Paulus noem die kerk die “draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15). Ons bely, “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. Die laaste wat ons van die Here Jesus in die Bybel lees is in die boek Openbaring. Daar het Johannes Hom gesien. Sy voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Hy het gekom om inspeksie te doen van die sewe gemeentes. Oor die gemeente van Efese het Hy gesê: “As julle, julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal ek julle lamp van sy plek af wegvat”.

4) Wat verwag die Here van die NG Kerk in hierdie omstandighede?

a. Leiers wat bereid is om keuses te maak

Dwaalleringe in die kerk gaan nie verwyder word deur tugaksies nie. Die Here soek leiers wat hulle nie sal skaam om standpunt in te neem nie en bereid is om die gevolge te dra van hulle standpunte. Johannes vertel ons in Joh 5:44 hoe Jesus die Joodse leiers beoordeel: “Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie?”. Johannes skets ook die toestand onder die Jode, toe hulle klaar besluit het om Jesus dood te maak in Joh 12:42: “Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; 43 want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.”

Toe die 34-jarige Andrew Murray in 1862 moderator was van die Sinode van die destydse NG Kerk, het hy vir agt jaar lank aan die spits gestaan van ‘n stryd teen die liberale teologie, wat die kerk uit Nederland ingesypel het. Daar was ‘n ds JJ Kotzé, wat in die Sinode verklaar het dat hy nie saamstem met Art 60 van die HK wat leer dat ‘n mens tot die kwaad geneig is nie. Na twee jaar se onderhandelinge met die dominee, is hy onthef as leraar. Daar was ook ‘n ds TF Burgers, wat skuldig bevind is aan die loëning van die “persoonlike bestaan van die duiwel” (niks nuuts onder die son nie!). Beide hierdie leraars het hulle op die hof beroep en Andrew Murray het die kerk se saak in die hof met onderskeiding hanteer, maar die hof het uitspraak teen die kerk gegee. Andrew Murray het namens die kerk ‘n appélsaak tot in Engeland hanteer, maar onsuksesvol.

Ek wil hier terloops melding maak daarvan dat die Andrew Murray boekprys, aan dr Ben du Toit toegeken is vir sy boek God? Geloof in ‘n posmoderne tyd. In die boek word dieselfde leerdwalings gepropageer wat Andrew Murray, tot in Engeland in die hof beveg het. Dit is ‘n skynheilige misbruik van die naam van een van die NG Kerk se grootste yweraars vir die Waarheid.

Mag daar weer leiers in die NG Kerk opstaan, wat met die moed van hulle oortuiging na vore sal tree en die dwaalleringe van ons tyd sal aanspreek.

b. Verootmoediging

Ná die Sinode van 2011, het daar ‘n foto verskyn van die nuwe moderatuur in ‘n triomfantelike houding. Die opskrif was: “Nou is dit net vorentoe!” In die lig van sommige besluite wat die Sinode daar geneem het bv oor die duiwel en saamwonery, het die leierskap baie rede om hulle eerder voor God te verootmoedig.

Die sake wat in hierdie betoog genoem word, vra ernstige verootmoediging voor die Here. Dit is waar die reiniging van die NG Kerk sal begin. Dit gaan ‘n groot kopskuif vra. Tot dusver beleef ek by ons leiers ‘n akademiese euforia. Daar word (vroom) gepraat van ‘n Seisoen van Luister, maar ons ervaar dat alle teenstand eenvoudig van die tafel af gevee word. Ek wil dus pleit dat die leiers en akademici bereid sal wees om hand in eie boesem te steek en te hoor wat die lidmate in die kerk vir hulle wil sê.

c. Belydenis veral oor 2005

In 2005 het meer as 30 entoesiastiese teologie studente van die NG Kerk ‘n rooi kaart opgesteek oor die leringe van sommige dosente by Pretoria. Daar was ook studente van ander kerke, wat die totaal aanvanklik op 46 te staan gebring het. Volgens die boek Opgestaan van Ferdie Mulder en die getuienis van ander studente het die dosenteraad en die kuratorium met soveel wrewel gereageer dat almal behalwe Ferdie onttrek het. Van die 24 klasmaats wat in Ferdie se klas begin het, het uiteindelik net 6 klaargemaak en net 4, het leraars in die NG Kerk geword.

Terwyl ek die boek Opgestaan van Ferdie gelees het, het ek telkens verslae gestaan oor die omvang van ongeregtigheid in die Fakulteit van die Universiteit, waarna gelowiges en ongelowiges, normaalweg opsien as die plek waar mense besig is met die dinge van God. In die boek val die een ontstellende tafereel na die ander oop van teologiese hubris en professore wat so gesteld was op die handhawing van hulle akademiese standpunte, dat daar van die leiding van die Gees in die Teologiese Fakulteit Pretoria, geen teken oorgebly het nie.

Die leierskap van die vier Transvaalse Sinodes het toegekyk hoedat die groep jongmense, wat aan die kuratorium en die dosente toevertrou is, moes swig voor die aanslag van die kerklike masjienerie. Die kuratorium het ‘n dowe oor gehou vir die ongelukkigheid van die studente. Die skriba, dr. Flip du Toit wat aangestel was om die studente by te staan het hom by die dosente geskaar. Daar is hartseer verhale van studente wat op ander plekke gaan hulp soek het, met hulle geloofskrissise. So vertel prof. Hennie Stander:

“Voor my sit ‘n derdejaar student. Wanneer hy begin praat, sien ek sy oë swem in trane: ‘Professor, ek wil met u praat. Ek worstel met my geloof. Hoe kry u dit nog reg om in Jesus te glo?’ Ek kan nie onthou hoeveel teologie studente in die afgelope twee jaar in my kantoor kom sit het met dieselfde vraag nie. Later begin hy onbeskaamd snik en sê: ‘Professor, ek voel soos ‘n verraaier. Tuis in my ouerhuis glo ek saam met my ouers en is ek aktief betrokke in ons gemeente, maar wanneer ek hier by die universiteit kom, word baie van die dinge waarin ek glo, in die klas met minagting afgelag. Skielik dink ek aan dit wat iemand op ‘n keer vir my gesê het: “Die teoloë leef met die geld van gelowiges, maar hulle ondergrawe die geloof van dieselfde gelowiges.” (Kerkbode, 6 Sept. 2002)

Prof. Jurie le Roux verweer homself en sy kollegas oor die tragedie wat daar in hulle midde afspeel by ‘n Openingsdag van die Teologiese Fakulteit as volg:

Veral voorgraadse studente uit ‘n konserwatiewe (en fundamentalistiese) teologiese dampkring is teologies baie broos en word maklik van die wetenskap vervreem. Hulle sukkel om rede en geloof bymekaar te bring en sal nooit lewenslank teologie wil studeer nie. Die opleiding sal daarom dié gevoelens, emosies, verlangens van voorgraadse studente moet ernstig neem en hulle daarmee moet help. (Opening van die akademiese jaar, 11 Maart 2005. www.teo.co.za)

Die dinge wat daar gebeur het (en waarskynlik in nuwe gestaltes steeds voortgaan), het nie ongesiens by die Here verby gegaan nie. Ons moet ook nie in die illusie leef dat dit ongestraf sal bly nie. Ek doen dus ‘n beroep op die leierskap van die kerk dat ons in hierdie geslag sal teruggaan op ons spore en dat ons opreg en openlik belydenis sal doen oor 2005 se gebeure by die Teologiese Fakulteit Pretoria. Dit is nie iets wat ons onder die mat moet probeer invee nie.

Kyk na resensies oor Ferdie se boek deur ds Chris Visser by Opgestaan: Verhoor van ’n Student oor “oneerlikheid” wat lei tot sy “ewige” skorsing…, asook Resensie van Ferdie Mulder se Opgestaan deur Coert Welman.

d. ‘n Kerk in Gees en Waarheid

Die NG Kerk het die uitdaging, om vir die gemiddelde RSG luisteraar en kykNET kyker ‘n kerk te wees . Soos ek na die inbellers luister, hoef ons nie vir hulle bang te wees, dat hulle vreemdsoortige postmoderne kreature is nie. Hulle is ons mense, wat saam met ons in die land grootgeword het en vleis braai en rugby kyk. Die 7e Laan karakters praat heel respekvol van die ouderling, die dominee en die kerkbasaar.

Hoe kan ons vir hulle ‘n kerk wees? Ek glo ons moet in hierdie verband ag gee op die woorde van die Here Jesus aan die Samaritaanse vrou in Joh 4:23:

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen”.

In Gees en in Waarheid. Dit is die sake, waarvoor Andrew Murray gestaan het en dit is nog al die tyd geldig. Die Here het deur sy Gees wonderlike gawes in die NG Kerk gegee. Daar is opgeleide predikers, daar is wonderlike musiekmakers, daar is kosbare musiekskatte, daar is ‘n klomp kreatiwiteit, daar is energie, daar is wysheid, daar is teologiese kennis, daar is liefde vir die medemens en geloof dat die Here vir ons ‘n doel het aan die Suidpunt van Afrika. Ons het Pinksterdienste, wat waarskynlik uniek in die wêreld is.

Kom ons omhels weer die belofte van die Here in Sag 4:6 “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” Kom ons vergeet eers van Leonard Sweet, Brian McLaren, Erwin McManus, Tony Jones en die res en ons wag op die Here. Hy sal ons deur sy Gees op die regte pad lei.

Dan is daar Waarheid. Ek glo as ons die gemeentelede en die katkisante voed met die Waarheid sal ons verbaas weesoor ‘n nuwe waardering vir die NG Kerk. Die skape van die Here is uiteindelik op soek na die Waarheid. God se Waarheid is onuitputlik. Ons moet ons nie skaam vir die Waarheid, omdat dit ook somtyds hard is nie (Joh 6:60). Ons moet nie God se Waarheid verdraai om dit aanvaarbaar te probeer maak nie.

Ek wil ten slotte my Gebed vir die NG Kerk hieronder aanheg. Ek het dit geskryf in ‘n tyd toe ek by die soveelste Algemene Sinode bewus geword het van dwaalleringe wat afgeweer moet word. Ek bid die gebed nog steeds, alhoewel ek bely dat ek met die tyd al begin wanhoop het, oor punte 1 en 2 en eerder bid dat die Here sal optree teen wat verkeerd is:

GEBED VIR DIE NGKERK

Junie 2007

In die lig van die ernstige verdeeldheid oor belangrike sake in die NG Kerk, wat ons by kruispaaie bring, neem ek my voor om ten minste weekliks persoonlik en saam met ander, ’n gebed met die volgende strekking, voor die Here te bring:

* * * * * * * * * * * *

Barmhartige Vader,

Ek dank U, dat U ons kerk vir meer as 350 jaar, aan die Suidpunt van Afrika gebruik het, om die Koninkryk van Christus te bevorder. Ek dank U, dat die NG Kerk vir my ook ‘n geestelike moeder was, waarin ek U kon leer ken en liefkry. Saam met my ander broers en susters, roep ek U aan, om ons kerk in hierdie tyd van die mag van die Bose te bewaar en vir ons kerk ‘n nuwe toekoms te gee.

Gee asb:

1.Dat ons kerkleiers met U Gees vervul sal wees, sodat hulle met wysheid, krag, visie en gehoorsaamheid aan U, die leiding sal neem wat in hierdie tyd nodig is.

2.Dat die dosente by ons teologiese fakulteite, die voornemende leraars met wysheid sal onderrig in die waarheid van God, sodat hulle, die boodskap van die kruis, met entoesiasme sal verkondig en in staat sal wees om die gesonde leer te kan onderskei.

3.Dat die opgestane Christus kragtig in elke gemeente teenwoordig sal wees en Homself by elke erediens sal openbaar.

4.Dat die leraars van ons kerk, in die gestalte van Christus, die kerk en die Koninkryk met ywer sal dien.

5.Dat daar ‘n kragtige getuienis van diens en liefde wêreldwyd, van ons kerk in die algemeen sal uitgaan en dat ons, ons plek met wysheid tussen die ander kerke in ons land sal inneem.

6.Dat die Gees gestaltes van eenheid sal bewerk in die NG Kerk familie, waardeur ons vir mekaar tot seën kan wees.

http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/55-ng-kerk-kat/1126-voorlegging-aan-die-sdk-jan-louw.html

Comments are closed