Wanneer die nuut aangewese moderatuur van die noordelike sinode van die NG Kerk Vrydag vir die eerste keer vergader, gaan hulle die tameletjie van die ring van Louis Trichardt moet hanteer.
“Ons vergader Vrydag en sal die besluit van die ring bespreek,” het dr. Déwyk Ungerer gesê.
Ungerer is Vrydag as die nuwe moderator van dié sinode aangewys. Hy was voorheen die aktuarius van die sinode.
Lees ook: Ring dreig NG Kerk oor gays
Die ring van Louis Trichardt het besluit die algemene sinode se besluit oor gay-verbintenisse is “sondig”.
“Nes die kerk apartheid 40 jaar lank verkeerdelik uit die Bybel geregverdig het omdat dit regeringsbeleid was, so regverdig die kerk nou verkeerdelik gay-verbintenisse,” lui die besluit van die ring.
Die ring het voorts besluit om alle finansiële bydraes aan die sinodes te staak, sou die noordelike sinode hom nie ondubbelsinnig uitspreek teen die besluit van die algemene sinode nie.
Lees ook: NG gays is nog ‘skrikkerig’
Ungerer, ’n leraar in die Raslouw-gemeente in Centurion, sê die moontlikheid van ’n buitengewone sinode kan Vrydag ter sprake kom, maar hy wil nie die vergadering vooruitloop nie. “Dis nie amptelik op die tafel nie. Ons gaan wel praat oor die pad vorentoe.”
Dr. James Kirkpatrick van die Stellastraat-gemeente (Suidoos-Pretoria), is as die assessor van die sinode aangewys.
“My eie gemeente se kerkraad hou op 10 November ’n vergadering en dan sal ons oor ons posisie ten opsigte van gay-verbintenisse besluit.
“Ons gee erkenning aan die verskeidenheid van menings en respekteer dit.”
Ds. Attie Louw van die Waverley-gemeente is as die nuwe aktuarius aangewys.