Selfdegeslag konferensie NG Kerk Kaap 2015-11-12
Die 6 ure video is beskikbaar vir almal om te evalueer. Dis skokkend om te sien wat met die Woord van die Here gedoen word! Ek het lanklaas sulke twak gehoor! Dit by Stellenbosch Universiteit. Dan wonder ons nog hoekom ons geliefde taal daar so onder druk is. Hierdie verwerplikheid het in Afrikaans plaasgevind.
As ons nie nou al besef dat daar beweeg moet word weg van hierdie spul nie dan weet ek nie wat moet nog gebeur nie. Hulle is openlik en arrogant in opstand teen die Here en hulle sleep niksvermoedende mense saam. Die gedeelte rondom die opstand van Korag is duidelik. Die leiers sal nie die oordeel van die Here vryspring nie. Die direkte ondersteuners ook nie!
Die plaag gaan die gewone mense tref wat na hulle luister en indirek steun aan hulle gee. Die wat nog wonder of hulle dan so verkeerd is. Die wat op die draad sit en hulle maar net laat begaan en dan murmureer omdat daar teen hulle opgetree word!
Baie kort oorsig van SGV-konferensie te Stellenbosch 12 November 2015 deur Dr Hebnrietta Klaasing >>>
Hierdie is ‘n baie kort opsomming van die SGV-konferensie te Stellenbosch wat deur Stellenbosch se kweekskool gereël is. (Let daarop dat Stellenbosch se kweekskool pro-gay is – kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit.)
Dit gaan eerstens oor Louis Jonker se 20-minuut aanbieding (ongeveer 17:53 tot so 37:36) aan die begin, dan ‘n stukkie oor ene “Etienne”, dan my eie opmerkings en heel laaste wat Gerhard Landman op Facebook geskryf het.
Vir die wat self na die video wil kyk, hier is die skakel:
Selfdegeslagkonferensie NG Kerk Kaap
Louis Jonker
Louis Jonker het (krities, sê hy) gekyk na SGV gesluite vóór 2007, 2007 en 2013 vanuit drie gesigspunte:
- Watter soort eksegese is gebruik in daardie tye.
- Watter tipe hermeneutiese sleutels is by vorige besluite gekies.
- Watter van 1 en 2 het 2015 se besluite bepaal.
* Volgens hom was die vorige besluitnemers uiters selektief in hul keuse van tekste, so selektief dat hulle ‘n baie dun Bybeltjie sou hê, volgens hom. Hulle het by die Levitikus 20 teks byvoorbeeld nie verder gelees dat mense wat dit beoefen, doodgemaak moet word nie – selfs ongehoorsame kinders moes doodgemaak word (hy het grappenderwys gesê dat sy eie kinders dan waarskynlik nie ouer as ses maande sou word nie!). Hy noem dit “eklektiese gebruik van tekste”.
* Hulle was ook onsensitief oor vertalingsvariasies, byvoorbeeld dat Lev 18 praat van “verhouding” en Lev 20 praat van “verkeer”.
* Die vorige besluitnemers was onsensitief oor die spesifieke genré waarin die tekste voorkom.
* Ook oor die “wêreld agter die teks”: sosio-kulturele konteks is geïgnoreer.
* Ook was die vorige besluitnemers onsensitief ten opsigte van geslagte in daardie tyd: daar was patriargale stelsels in plek. Die resepsietradisie is belangrik.
* Dan spesifiek by die 2013 besluit het die woord “selibaat” ingekom – hy het gesê dit is ongereformeerd, en die vorige besluitnemers het dit nie uit die Skrif gemotiveer nie. Hy het sover gegaan om te sê dat dit dieselfde soort hermeneutiek was wat gebruik is om apartheid te regverdig.
Ook het hy verwys na Gerda de Villiers se “uitstekende” stuk oor Rut in die Teologiese tydskrif.
‘n Inklusiewe hermeneutiek was nodig (om by die 2015 besluit uit te kom). Daar moes ook gekyk word na die wysheidsliteratuur. Hy het geëindig deur te sê daar is sáám met gay-medegelowiges en sáám met die natuurwetenskappe gekyk, en hy het die gay-medegelowiges hartlik bedank dat hulle deel was van die nuwe besluit. Lees verder >>>
Kyk ook:
- 2015 NGK homoseksuele besluit
- Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch
- Emosionele manipulasie by die sinode
- Die Bybel oor homoseksualiteit
Die oordeel van Korag in hedendaagse konteks a.g.v. hul verset teen die Here