Gereformeerde klassis Moot spreek hom uit teen die NG Kerk se besluit
Met dank aan Francois van Deventer wat die inligting verskaf het.
Die Gereformeerde Kerke in klassis Moot (BetEl, Daspoort, Meijntjieskop, Elofsdal, Innesdal, Kandelaar, OosMoot, Bronkhorstpruit, Pretoria(d), Andeon, Bergsig, Totiusdal en WonderboomSuid.) het die volgende Mosies eenparig aanvaar by vanaand (13 Oktober 2016) se vergadering:
Die Gereformeerde kerke in klassis Pretoria-Moot neem met leedwese, skok en afkeur kennis van die onlangse besluite van die Sinode van die NG Kerk, wat homoseksualiteit aanvaar en goedkeur in so mate dat mense wat ‘n openlike homoseksuele leefwyse beoefen, selfs as predikante toegelaat word en dat verbintenisse tussen sulke mense kerklik bevestig mag word.
Die Bybel wys homoseksualisme onvoorwaardelik af, soos duidelik onder meer uit Romeine 1: 26 en 27.
Die besluit van die NG Kerk word diep betreur en noodsaak herbesinning van die ooreenkoms met die NG Kerk soos goedgekeur op die laaste algemene sinode van Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika.
Ons as Gereformeerde Kerke se ekumeniese verhouding met die NG Kerk het verlede week ‘n praktiese werklikheid in ons lewens geword met die NG Kerk Sinode se pro-homoseksualisme besluit.
Na aanleiding van hierdie besluit van die NG Kerk spreek hierdie vergadering van Gereformeerde Kerke in Pretoria-Moot sy kommer uit oor ons ekumeniese verhouding met die NG Kerk, asook ons hartseer oor genoemde besluit se liefdelose veragting van die HERE, sy Woord, en ons naaste.
Dit doen ons terwyl ons harte uitgaan na ons broeders en susters in die NG Kerk wat die geestelike aanslag en dwingelandy van afvallige Kerk-strukture baie erg beleef.
Hierdie vergadering se bede is dat die HERE al sy ware gelowige kinders in die NG Kerk en ook in die Gereformeerde Kerke deur sy Gees sal vul en lei (Efes 5:19; Rom 8:13-14; Gal 5:16) om hulself te verloën en sy Naam en waarheid teenoor die NG Kerk se pro-homoseksualisme besluit te bely, en haar oor haar euwels te bestraf (Mark 8:34-38; HK Sondag 12 v/a 32).