Emosionele manipulasie by die sinode

Emosionele manipulasie by die sinode

Geskryf deur Jan Louw
Sondag, 08 November 2015 08:00
Kyk ook:

Selfs pro-gays is verbaas oor die besluit van die Algemene Sinode van 2015. Wie het kon dink dat daar ‘n dag sou kom dat die NG Kerk sou besluit dat praktiserende homoseksuele mans en vroue as leraars bevestig kan word? Hoe het dit gebeur dat die NG Kerk by sy belangrike beleidsinode met 114 stemme teen 63 (‘n meerderheid van 64%) so ‘n besluit kon neem?

Dit is duidelik dat die leiers van die NG Kerk die afgelope aantal jare baie beplanning insit in die “ontwerp” van Sinodes. Ons kry bv die volgende woorde in die Agenda van die Sinode van 2015:

Die Moderamen het besluit om ‘n Ontwerpspan saam te stel wat die beplanning vir die Algemene Sinode sal doen. Die Ontwerpspan het aan die Moderamen en die Bedryfspan verslag gedoen van sy werksaamhede.

Die personeel was die volgende: dr Kobus Gerber (sameroeper), me Rinel Hugo (skriba), mnr Gerhard Potgieter, me Ester Steyn, di Nelis J van Rensburg, Norma Rossouw, drr Johan Ernst, Gustav Claassen, Roelf Opperman, ds Fay van Eeden en me Hermien Swart saam met ander verteenwoordigers van die Noordelike Sinode: dr Kobus Myburgh, di Lizl-Louise Schoeman, Attie Nel, Daniël de Vos, Wynand van Niekerk, Fritz Snyman en Pieter Visser. Die Noordelike Sinode het ook ‘n span wat die boek Rut deur die loop van die vergadering hanteer.

Op sigself is daar niks verkeerd daarmee dat daar soveel voorbereiding ingaan om van die Sinode ‘n sukses te maak nie. Die Algemene Sinodes is immers die NG Kerk se vlagskip geleenthede. Die pers is daar en die Kerk trek ‘n gehoor veel groter as net die lidmate van die NG Kerk. Dit moet ‘n afgeronde en inspirerende geleentheid van die kerk wees.

Die Moderature stel hulle egter ook bloot om beskuldig te word van emosionele manipulasie deur die tegnieke wat nou benut word om Sinodevergaderings te “ontwerp”. Ons weet almal dat die leierskap geen geheim gemaak het van die feit dat daar dinge is wat hulle graag in die NG Kerk wil laat gebeur nie. Die een is dat die Belydenis van Belhar op ‘n manier erkenning moes kry en die ander is dat homoseksuele gedrag in die NG Kerk “genormaliseer” moes word nie.

Mens kan sê hulle het nou hulle sin gekry, maar daar is vrae oor die manier waarop hulle dit “reggekry” het. Ek wil wys op ‘n paar dinge wat daarop dui dat die leierskap in die kerk die afgelope jare Sinodes “ontwerp” het, waardeur hulle, hulle doelwitte kon bereik. Mens kan ook praat van strategieë.

MISLEIDENDE TEMAS VIR SINODALE VERGADERINGS

By ‘n vorige Sinode het ons gehoor dit gaan oor diversiteit en inklusiwiteit. In hierdie klimaat het die Sinode die besluit geneem dat daar ruimte gemaak word vir lidmate wat nie in die duiwel glo nie! Die moderator het na die tyd beklemtoon dat die NG Kerk ‘n “ruim huis” is.

By die afgelope Sinode van 2015 was “Menswaardigheid” die gonswoord. In die Aanvullende Agenda van die Sinode kry ons bv die woorde:

Die Moderamen het hulleself deurentyd daaraan herinner dat die werk van die Taakspan, die Moderamen se refleksie daarop asook die gesprek tydens die Algemene Sinode moet geskied aan die hand van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

Toe die besluite oor selfdegeslagverhoudings (SGV) uiteindelik gevel is hoor ons die eerste besluit begin met die woorde:

Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

In die Aanvullende Agenda kom ook die volgende woorde voor:

Die Moderamen wil in hierdie verslag herhaal wat al vantevore gesê is en dit weer onderstreep: die werk van die Moderamen en die Taakspan asook die hantering hiervan by die Algemene Sinode geskied met pastorale deernis. Die Moderamen wil ook weer sê dat die gesindheid by die Moderamen is om met hiérdie deernis te praat: met almal te praat en dat ons nog nie klaar gepraat het nie.

Dit klink na ‘n pragtige Christelike gesindheid wat gepropageer word, maar in werklikheid is dit ook ‘n muilband vir ‘n persoon wat dit waag om te verskil van die sake wat die leiers vir die vergadering aanbied. In die atmosfeer van sulke mooiklinkende woorde soos menswaardigheid en die liefde van God wat vir vyf dae in ‘n vergadeing herhaal word, voel enige persoon wat ‘n ander standpunt voorstaan, dat hy/sy eintlik buite orde is.

FASILITEERDERS

In die Kerkbode van 23 Oktober 2015 skryf Lenois Stander oor sy ervaring van die Sinode:

Hoe neem ’n groot vergadering van tweehonderd mense, ’n besluit oor ’n ingewikkelde teologiese kwessie waarmee kerke regoor die wêreld al vir dekades worstel? Hoe lyk die pad na groter sinergie vir so ’n vergadering?

Aanvanklik het dit gelyk asof uiteenlopende standpunte oor selfdegeslagverhoudings onversoenbaar is – nie een party was bereid om ruimte te maak vir ’n ander interpretasie nie. Die skrif was aan die muur, die gesprek het op ’n dooiepunt afgestuur.

En tog het die ondenkbare oor die verloop van die volgende drie dae gebeur, ná die vergadering ’n dieper spiritualiteit gevind het. Met die hulp van ervare fasiliteerders kon die vergadering ’n nuwe ruimte vir gesprekvoering betree: ’n ruimte sonder verdagmakery, vernederende opmerkings, beterweterigheid of etikettering.

In hiérdie ruimte het afgevaardigdes begin veilig voel, hul aannames oor ander opgeskort, dieper begin luister, en meer begrip ontwikkel. In hiérdie ruimte was daar nie meer plek vir vrees en aggressie nie. In hiérdie ruimte was daar minder plek vir selfgenoegsaamheid, en meer plek vir die teenwoordige Christus.

Verskeie afgevaardigdes vertel dat hulle deur die loop van die week van standpunt verander het – soos die uitslag van Vrydag se stemming ook bevestig het.

Wat ek hier hoor is dat die afgevaardigdes by die vergadering met die hulp van “ervare fasiliteerdersvan standpunt verander het”. So het die “ondenkbare” gebeur. Volgens die berig was dit dus fasiliteerders wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het om die uitkoms van die besluite by die Sinode te bepaal (en nie die lig wat die vergadering uit die Skrif gekry het nie).

Lenois Stander het waarskynlik ‘n goeie waarneming gemaak van die rol van fasilitering by die Sinode. In die Agenda van 2013 hoor ons al dat die Sinode beskou word as ‘n “geloofsonderskeidende proses”. Dit word as volg verduidelik:

  • Die Sinode het ’n luisterspan (een lid van elke sinode) wat oorhoofs die bewegings van die Gees in die vergadering deur refleksie gaan verwoord in ‘n kort verslag aan die einde van die Sinode. Die vergadering sal hierop kan reflekteer Woensdagaand en in die laaste sessie Donderdagoggend.
  • Die moderators van die tien sinodes, die tafelleiers en diefasiliteerders staan die Ontwerpspan (wat ter vergadering die verkose Moderatuur insluit) by tov die verloop van die vergadering. Hierdie groepe asook inleiers (waar van toepassing) kry voorafbegeleiding tov óf hulle aanbiedings en/óf hulle begeleidingsrol.

DIE BOEK RUT

Die Ontwerpspan het besluit om die Bybel by die boek Rut oop te maak by hierdie Sinode. Elke môre met die dagwyding is ‘n boodskap uit die boek Rut gebring. Waarom die boek Rut? Die belangrikste saak op die tafel naas Belhar was die homoseksuele kwessie. Hoe kon die geskiedenis van Rut helderheid bring oor die homoseksuele vraagstuk? Geleidelik het die prentjie duidelik geword.

Die boodskap aan die Sinode was dat die Jode nog in die tyd van Esra en Nehemia streng volgens die harde wette van Deuteronomium gelewe het. Daar was nie plek vir die Moabiete in Israel nie. Die mans wat met heidense vroue getroud was moes hulle vroue en kinders terugstuur waar hulle vandaan kom. Na die ballingskap het daar glo ‘n wending gekom. Die “storie” van Rut is geskryf waarin afstand gedoen is van hierdie harde teologie. Luister na die boodskap van ds Fay van Eeden wat sy volgens die Kerkbode met die dagwyding aan die Sinode gerig het:

Die verhaal van Rut kom in opstand teen die eksklusiewe interpretasie van die Deuteronomiumtekste. Die skrywer van die Rutverhaal kom gee ’n ander moontlikheid.

Die Rutboek vertel van mense wat ook doen wat die Bybel sê, wat ook erns maak met die Bybel – maar hierdie mense interpreteer die Bybel anders. Hulle interpretasie van God se Woord word gelei deur liefde vir mense wat swaarkry. Hulle interpretasie van God se Woord word gelei deur deernis en omgee vir mense, mense wat vir watter rede ook al, deur die kerk uitgestoot word.

Hierdie boodskap is gebring op die belangrike dag dat die homoseksuele kwessie ter tafel geneem sou word. Interessant dat die sinodegangers blykbaar nie agtergekom het hoedat daar op allerande subtiele wyse voorbrand gemaak is vir die “mense wat deur die kerk uitgestoot word” nie. Die sinodegangers het op daardie stadium reeds geval vir die Taakspan vir Selfdegeslagverhoudings (SGV) se bevinding dat die belangrike gedeeltes in die Bybel wat juis oor die onderwerp van homoseksualiteit handel nie van toepassing is op vandag se SGV nie. Dr Andries Kritzinger van die taakspan wat die verslag voor die sinode opgestel het, het gesê daar is twee “bronoorleweringe” waaruit mense se oortuigings oor die saak gevoed word. Die een is die nuwe taal en manier van dink oor kerkwees wat gevoed word deur die denke oor die heil in Christus. Die ander is die sewe anti-gay tekste in die Bybel. Die taakspan is sterk oortuig dat die sewe tekste nie ‘n kritiese weeg kan oorleef nie.

Daarmee was die Woord van God oor die saak gemuilband en die gesprek volgens die verslae wat deur die Sinodebode aan die kerk uitgestuur is het gehandel oor die “pyn” van die mense in selfdegeslag verhoudinge.

GEBRUIKMAKING VAN DIE KUNS

Die Ontwerpspan het verder gegaan en ook die kuns ingespan om die “boodskap van Rut” gevestig te kry.

‘n Kunswerk van Christiaan Harris is by die sinode vertoon. Die simboliek van die werk word as volg verduidelik:

Die kloof beeld ’n dam uit. Die damwal het gebreek en die kerk het verrys. Uit die kerk vloei ’n rivier van kleure wat die reeks van inklusiewe sake wat op die sinode bespreek word, uitbeeld. Die goud is simbolies van die koringland in die boek Rut.

Dit is seker nie toevallig dat die “rivier van kleure” dieselfde kleure bevat as die vlag van die Lesbiër, Gay, Biseksueel en Transseksueel Beweging (LGBT) nie. Dit word as deel van die “inklusiewe” sake by die Sinode beskryf.

‘n Skildery oor Rut en Naomi van die Chinese kunstenaar, dr. He Qi, is ook aan die sinode voorgestel.

Dr Johan van den Heever, leier van die dagwyding van die laaste dag van die Algemene Sinode het die volgende meer subtiele simbole in die skildery uitgewys:

Die klein wit driehoekies op die hand dui op die Drie-eenheid van God. Dit simboliseer dat die Drie-eenheid reeds hier in die lewens van twee vroue aan die werk is. Die twee sirkels beeld twee borste uit en daar is net twee hande op die skildery. Dit beteken dat die twee vroue nou verweef is en die pad saamstap.

’n Amandelvormige “mandorla” is oral oor die skildery sigbaar. Die bekende Griekse “ichthys”- of vis-simbool is ook in die vorm van ’n mandorla. Die duidelikste mandorla in “Ruth and Naomi” loop oor beide vroue en wys dat Christus reeds in hul lewens en verhouding teenwoordig is. Dit illustreer dat God al hoe meer sigbaar raak soos wat hulle storie vorder.

Twee teenoorgesteldes word in ’n mandorla by mekaar uitgebring om ’n eenheid te vorm. In tradisionele Christen-kuns word Jesus Christus en Maria dikwels binne ’n mandorla geteken om hul heiligheid uit te beeld. Dit beeld ook die feit uit dat, ten spyte van die feit dat sy menslike en Goddelike karakter teenoor mekaar staan, Jesus se mens- en Godwees ’n eenheid vorm.

By God word die onmoontlike moontlik.

Ek het die woord mandorla gaan google en agtergekom dit word gebruik in die Oosterse en New Age omgewing. Ek het bv op die volgende by ‘n yoga instituut afgekom: “A mandorla is the almond shaped space that occurs when two perfectly shaped circles overlap. Used to represent the perfect balance of two opposites, the word Mandorla, for us, reminds us that we are both divine and human, beautiful and flawed. We rely on Ayurveda and Yoga Philosophy to enrich our programs and we believe that each Element (Earth, Water, Fire, Air and Ether) has a challenge for us to encounter, that as we lean into the things that we find difficult, we can uncover wholeness. It is our honour to support you either through private sessions, group classes or in our yoga teacher training programs.”

Homoseksuele insinuasies?

Die Vanderbilt Biblioteek se webblad sê oor die skildery: “The passion of Ruth’s commitment is suggested by the word “clung.” The verb is most frequently found in the context of marriage, such as the famous words from the garden scene in Genesis 2:24. “Therefore a man leaves his father and his mother and clings to his wife, and they become one flesh.” Ruth clings to her mother-in-law as a man clings to his wife….Naomi makes one last attempt to send Ruth away…Ruth’s response is among the most radical statements of commitment in the Bible…the words of Ruth 1:15-16 take the form of a covenant, but a covenant that goes against all social expectations. Ruth chooses to commit herself to Naomi. She binds herself unconditionally not only to a woman rather than a man, but in an act of radical solidarity, to a woman in near desperate circumstances.” (Pressler, 271) Art in the Christian Tradition, Ruth and Naomi

GEBRUIKMAKING VAN SEKULÊRE MUSIEK

Op 9 Okober het die dagwyding begin met die speel van ‘n lied van Stef Bos waarin hy sing van die moeilike pad wat Naomi en Rut saam begin stap het. Dit is ‘n pragtige lied, maar wat my betref is daar ondertone in die lied wat ‘n homoseksuele verhouding suggereer:

Ek weet jou volk is bang
Voor ons wat anders is
Maar ek sal brugge bou
Daar waar die afgrond is

En wanneer die donker kom
En jou mense my ontwyk
Sal ek my liefde gee
Totdat die haat verdwyn

Stef Bos: Lied van Ruth – My Land Is Jou Land (met het Metropole Orkest)

VREEMDE TEOLOGIE

Na die Sinode het ‘n interessante reaksie gekom van Gerda de Villiersvan die Teologiese Fakulteit Pretoria (kyk Die gay kwessie: die wet, Rut en Jesaja – Gerda de Villiers). Dit was op Teo die webdiens Teo van die Fakulteit. Sy is natuurlik verheug oor die Sinode se besluit oor homoseksueles. In haar beredenering kom die volgende woorde voor wat my opval:

Die eerste reaksie wat ek gekry het toe ek sê dat ek dink die Rutboek kan ‘n belangrike bydrae in die gay debat lewer, was: ‘O ja, Rut en Naomi het mos ‘n lesbiese verhouding gehad.’ Die teks waarop hierdie aanname gebaseer word, is Rut 1:16-17. Rut belowe klakkelose lojaliteit aan haar skoonmoeder, Naomi: ‘Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly, u volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf en daar begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.’

In die res van die artikel distansieer sy haar van ‘n eksegese wat dui op ‘n lesbiese verhouding tussen Naomi en Rut, maar wat my opval is dat sy in die kerklike kringe waarin sy beweeg ook geoordeel het dat die Rutboek ‘n belangrike bydrae tot die gay debat kan lewer. Die reaksie van die omstanders waarvan sy meldingmaak is egter vir my veral opvallend: ‘O ja, Rut en Naomi het mos ‘n lesbiese verhouding gehad.’ Moet mens hieruit aflei dat dít die soort sieninge is wat in die teologiese en kerklike kringe geldend is waar die opleiding van leraars plaasvind?

In die res van die artikel reflekteer de Villiers dieselfde sieninge wat by die Sinode gepropaeer is nl dat Rut ‘n post-eksiliese boek is en dat die skrywer sy rug gedraai het op die wettisisme van Esra en Nehemia.

Ek het twee probleme met De Villiers en die Sinode se uitkyk op die boek Rut. De Villiers is baie duidelik daaroor dat die Rutboek ‘n “storie” is. Die outeur kies ‘n Moabitiese vrou as een van sy hoofkarakters. In die Bybel word Rut egter as ‘n historiese figuur geskets, wat bygedra het tot die voorgeslag van Dawid en uiteindelik van Jesus (Rut 4:18-22).

Verder word uitgegaan van die gedagte dat die skrywer ‘n nuwe, sagte teologie voorgestaan het wat ‘n ander houding oor die wet van Moses voorgestaan het, as wat Esra en Nehemia gehad het. As dit waar is, moet mens dan aflei dat die Jode nie op die pleidooi van die skrywer van Rut ag geslaan het nie, alhoewel hulle die boek tog in die kanon ingesluit het. Toe die Here Jesus gekom het, het Hy ‘n wettisisme aangetref wat eens so erg was as in die tyd van Esra en Nehemia. Selfs die apostels se oë moes oopgemaak word vir die feit dat God die heidene in die nuwe koninkryk van God wou insluit. (Die Here het vir Petrus ‘n gesig laat sien van die laken met die onrein diere in Hand 10.)

OPENLIKE PROPAGERING VAN DIE GAY STANDPUNT BY DIE SINODE

Amptenare en sprekers by die Sinode het T-Hemde gedra waarmee hulle die standpunt van die leiers en die moderamen aan die sinodegangers verkoop het. Dit is onaanvaarbare optrede vir ‘n Sinode, veral in die lig van die erns van die saak waaroor die Sinode ‘n besluit moes neem. ‘n Sinode is nie ‘n politieke vergadering waar emosionele stemmingmakery gedoen word om die kerk se besinning oor Bybelse waarhede te beïnvloed nie. In so ‘n atmosfeer kan daar nie sprake wees van nugter denke en eerlike soeke na die leiding van die Gees volgens die Woord van God nie.

Prop Hennie Pienaar, dr Marietjie van Loggerenberg, dr Charlene van der Walt, Michelle Boonzaaier en Lulani Vermeulen.

Dit is nie die eerste keer dat hierdie soort ding gebeur nie. Prof Johan Janse van Rensburg skryf oor die Sinode van 2011:

Dié afmosfeer was so sterk, en afgevaardigdes so gekondisioneer, dat dit vir hulle haas onmoontlik was om teen voorstelle te stem. … Daar was groot welwillendheid en liefde, baie klem op sang, gebed en Skrifgesprekke. Emosie het ‘n groot rol gespeel en ná die Sinode is daarna as die ‘Huilende sinode’ verwys. (kykByeenkoms te Somerset-Wes)

BEVINDING

Ek het in die artikel bietjie gegrawe na die kerklike gebeure en optredes wat gelei het tot die onbegryplike besluite van die NG Kerk oor lidmate wat in die greep van homoseksualiteit verval het. In die proses is ek opnuut ontnugter oor die toestand waarin die Kerk verval het. Dit gaan oor baie meer as net ‘n hoogs omstrede besluit. Dit gaan oor ‘n kerk wat verval het in die skyn van godsdienstigheid. Dit gaan oor leiers wat voorgee dat hulle aan die Woord van die Here getrou is, maar vals optree. Dit gaan oor ‘n teologie wat leerstellinge van mense geword het.

Ek kan die situasie nie beter opsom as om eenvoudig te verwys na die gesig waarvan Esegiël in Esegiël 8 vertel nie. Die Here het Esegiël in die Gees na Jerusalem toe gebring en vir hom gewys op die toestand wat aanleiding gegee het tot die ballingskap.

(7) Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek ‘n gat in die muur. (8) Hy sê toe vir my: “Mens, breek af die muur!” Toe ek die muur begin afbreek, sien ek ‘n poort.
(9) God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!” (10) Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is. (11) Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en ‘n geurige wierookwolk het opgestyg. (12) God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”
(13) Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,” (14) en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus.
(15) Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.” (16) Hy bring my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here toe. Daar in die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was ‘n stuk of vyf en twintig man met hulle rug na die tempel van die Here toe en hulle gesig na die ooste toe, en hulle was besig om in aanbidding voor die son neer te val na die ooste toe. (17) Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Was dit nie genoeg dat Juda dié afskuwelike dinge hier gedoen het nie? Hulle het boonop die hele land vol geweld gemaak, en dan kom tart hulle My nog met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai.
(18) Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.”

Dr Kobus Gerber, ds Nelis Janse van Rensburg, dr Gustav Claassen, ds Dirkie van der Spuy en prof Johan van der Merwe. Sinodegangers het almal karton kruise om hulle nekke gedra.

Comments are closed